Die Skrif is ‘n merkwaardige en ryke openbaringsverskynsel van eenheid ín verskeidenheid. Dit spreek ten diepste van een heilsboodskap wat, soos die heilsgeskiedenis voort wentel, in veelvoudige dimensies en perspektiewe; tydperke en landstreke; deur volke en individue soos ‘n blom vir ons ontvou.
Dwars deur hierdie ontvouing van God se merkwaardige heilshandelinge met sy Kerk word dit duidelik dat Hy deur middel van verbond Hom aan die mens verbind. Ons tref verskeie verbonde (of verbondsopenbaringe) in verskillende epogge van die heilsgeskiedenis in die Skrif aan. In hierdie skrywe wil ek my op twee verbonde toespits, naamlik die werkverbond en die genadeverbond.
So kom ons, voor die sondeval die werkverbond wat God met Adam gesluit het, teë. Dit word dalk nie eksplisiet ‘n verbond genoem nie, maar al die elemente van ‘n verbond is (soos dit later in die Skrif duidelik word) reeds in God se handeling met Adam teenwoordig. Daar is die neerbuiging van God tot die mens (wat die Westminster noem: voluntary condescension) en dan die bekende drie B’s van die verbond: bevel (Gen. 2:16-17), belofte* en bedreiging (v.17). Hoséa 6:7 bevestig dit wanneer daar geskryf staan: “Maar hulle [die volk van die Here] het soos Adam die verbond oortree…”
Dat Adam die verbondsbevele nie gehoorsaam het nie is alombekend. Nie bloot vanuit Skrifgetuienis (Gen. 3:6 e.v.) nie – kyk maar net rondom jou…
Die federale hoofskap van Adam (dat hy hoof van die verbond is) is verder die rede hoekom ons van erfsonde kan sinmaak.
Dit is verder nodig om te beklemtoon dat hierdie verbond van God met Adam ‘n werkverbond is.† Dit beteken dat die verbondsbevele van God aan Adam deur sy eie gehoorsaamheid onderhou moet word. Deur Adam se verbondswerk (wetsgehoorsaamheid) sou hy die lewe beërwe. Vir Adam was daar aanvanklik dus geen genade (in soteriologiese sin)‡ nodig nie. Genade, in die klassiek Gereformeerde verstaan, beteken onverdiende guns aan iemand wat die teenoorgestelde verdien en impliseer dus ‘n verdorwe natuur “wat die teenoorgestelde verdien”. Alhoewel daar steeds gereken moet word dat God hom deur genade (hierdie keer in oorsprong-sin bedoel) tot die eerste mens neerbuig, bemoeienis maak en ‘n verbond sluit, bly die verbondseis aan Adam aanvanklik om gehoorsaamheid deur sy werke te betoon. Binne die kader van die verbond (waarin God gewilliglik homself aan Adam verbind) geld wetsgehoorsaamheid tot die verkryging van die verbondsbelofte.
In lyn hiermee skaar ek my by diegene (Ursinus, Beza, van Maastricht, Berkhof, Bavinck en Clark ens.) wat ‘n sterk weerspieëling tussen die werkverbond en wet enersyds en genadeverbond en Evangelie andersyds beskou. Ursinus maak so ‘n verbintenis duidelik in sy Groot Kategismus wanneer hy in Vraag 36 vra: “Wat is die verskil tussen die wet en evangelie?”
Antwoord: “Die wet behels die verbond van die natuur [werkverbond], deur God met die mens in die skepping ingestel; dit wil sê, dit word deur die mens uit die natuur geken, dit vereis volmaakte gehoorsaamheid van ons teenoor God en dit belowe die ewige lewe aan hulle wat dit onderhou, maar het die ewige straf as dreiging teenoor hulle wat dit nie onderhou nie.
Die evangelie, egter, behels die genadeverbond; dit wil sê, alhoewel dit bestaan, word dit glad nie uit die natuur geken nie; dit toon ons Christus se vervulling van daardie geregtigheid wat die wet vereis, en die herstel daarvan in ons deur die Gees van Christus en dit belowe die ewige lewe vrylik ter wille van Christus aan hulle wat in Hom glo.”
Ursinus plaas ons sommer direk op die oorgang van hierdie artikel tot die genadeverbond. Ookal is daar duidelik sprake van verskeie ander tipes verbonde na die sondeval met o.a. Noag, Abraham, Dawid ens., word dit as administrasies van die een genadeverbond beskou.†† Ook die Nuwe verbond wat deur Christus ingestel word is nie bewerkstellig om die oue (werkverbond) tot niet te maak nie, maar wel te vervul. Die nuwe verbond in Christus is die hoogtepunt, die tot-volle-blom-kom van God se verbondsverbintenis aan die mens deurdat Jesus volkome versoening tussen God en mens bewerk het. Hy het toegang tot God weer herstel; ‘n duidelike verklaring van die voorhangsel in die tempel (wat die heilige van die allerheiligste geskei het) wat van bo na onder middeldeur geskeur het.‡‡ Die substansie van elke administrasie van die een genadeverbond dui op en vind hul onderskeie vervolmaking in die Persoon en werk van Christus as die groot verbondsmiddelaar – die een groter as Moses, Dawid, Noag en Abraham wat elk in hul afsonderlike hoedanighede as middelaars (alhoewel gebroke) tussen God en die volk opgetree het.
Die genadeverbond het nie die werkverbond vervang nie. Omdat die werkverbond met Adam een van werke was (wat gehoorsaamheid as die voorwaarde vir die lewe geëis het) en omdat daardie verbond wel deur Adam verbreek is maar tog nooit afgeskaf is nie omdat die eis van volmaakte gehoorsaamheid steeds die vaste standaard van God se geregtigheid bly, moet iemand daardie voorwaardes werklik nakom sodat dié uit Adam wel gered kan word.
Christus as tweede Adam doen presies dit. Daar word dikwels onderskei tussen Christus se aktiewe gehoorsaamheid en sy passiewe gehoorsaamheid.
In sy aktiewe gehoorsaamheid het Christus as federale hoof van die uitverkorenes die positiewe, volmaakte gehoorsaamheid wat Adam nagelaat het gelewer om sodoende die lewe wat in die werkverbond aangebied is te verdien (Sien bv. Rom 5:19)) In Sy passiewe gehoorsaamheid het hy die vloek of bedreiging van die dood wat Adam se oortreding tot gevolg gehad het gewillig gedra om sodoende aan die werkverbond se straf ten behoewe van die wat in Hom verenig is te voldoen (Sien bv. Gal. 3:13)).
Dit is dus juis in en deur die werk van Christus dat die vereistes van die werkverbond vervul is. Dat Christus dit alleen doen – die ongehoorsaamheid van alle mense op Hom neem en in die plek van sondaars soos ons perfekte gehoorsaamheid toon en tóg óók die straf gewilliglik ondergaan – dít is die vervulling van die genadeverbond.
Keller stel dit treffend: Jesus het ontvang wat hy nie verdien nie, sodat ons kan ontvang wat hy wel verdien. Dít is genade van die Jesus as verbondsmiddelaar.
Hierdie Middelaarswerk is in die ewige raad – ook bekend as die pactum salutis – van God Drie-Enig beslis. Die Vader gee aan die Seun ‘n volk (Kerk), die Seun beloof om gewillig onder hierdie mense te kom wandel en versoening deur die kruisdood te bewerk. Die Gees beloof vervolgens om daardie volbragte verlossing, in die tyd, toe te pas waardeur ‘n heerlike en intieme verbondskennis en wandeling van God en sy volk herstel word.
Bogenoemde is die gronde waarop die verskeie verbonde (na die werkverbond) dwars deur die Skrif as genadeverbond-administrasies beskou kan word. Christus is, van ewigheid af, Middelaar en Borg van die genadeverbond, en elke Ou-Testamentiese ampsdraer (profeet, priester, koning) ontleen gesag slegs as 'n skaduagtige verteenwoordiger van daardie een ewige Middelaar.
Christus is dus sowel die vervuller van die eise van gehoorsaamheid eens aan Adam in die werkverbond gegee. Daardeur is die wat in Hom verenig is ook as volmaaktes gereken. Maar hy is ook vervuller van die genadeverbond wat vereniging in Hom moontlik maak. Hy is, soos Horton dit beskryf, die skarnier waardeur die drie verbonde – pactum salutis (vredesraad), foedus naturae (werkverbond) en die foedus gratiae (genadeverbond) – saamgebind word. Hy is die uitvoerder van die ewige verbond, die vervuller van die verbroke werkverbond en die middelaar en substansie van die genadeverbond. Alles tegelyk.
Die handhawing van die onderskeid tussen die werk- en genadeverbond kom, m.i., nie op haarklowery neer nie. Omdat ons vroeër gestel het dat die onderskeie verbonde respektiewelik die wet en evangelie in hul karakter weerspieël is dit, Soos Beza dit stel: “[...] vir ons van die allergrootste belang om hierdie saak ter harte te neem. Ons kan immers met goeie rede aanvoer dat die onkunde rondom die onderskeid tussen wet en evangelie een van die vernaamste oorsake is van die dwalinge wat die Christelike geloof histories verduister het en vandag steeds bedreig.”
Die beginsel van die werkverbond is – doen dit en jy sal lewe. Paulus stel dit in Rom. 10:5 soos volg: “Want Moses beskrywe die geregtigheid wat uit die wet is: Die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe.” Die geregtigheid uit die wet – die verbondsbevel – is wat Adam kon en moes verwerf. Daar is geen eksegetiese gimnastiek rondom die stelling “die mens wat hierdie dinge doen sal daardeur lewe” nie. Adam het geëet en het gesterwe. Dit impliseer dat as hy gedoen het wat God gevra het, hy nie sou sterf nie maar sou lewe. Dit is die geregtigheid uit die wet.
Die werkverbond is gebou op die fondasie van geregtigheid uit die wet. Elkeen wat nie in Christus berus nie, is steeds onder hierdie wet. Vir hom geld dit: doen dit en jy sal lewe. Die verdorwenheid van die mens is egter van so ‘n aard dat die mens – dood in sy eie sonde – nie die heilige en volmaakte geregtigheid wat God eis kan nakom nie. Dit is daarom dat Paulus in Rom. 10:3 van Israel sê dat hulle “[...] die geregtigheid van God nie ken nie” – met ander woorde nie verstaan en besef hoe ‘n heilige en volmaakte bestaan God se geregtigheid as vereiste stel nie – en vervolgens “hulle eie geregtigheid probeer oprig [en] hulle [...] aan die geregtigheid van God nie onderwerp nie” – met ander woorde hulle laat sak die heilige standaarde tot ‘n meet- en haalbare vlak. Inderdaad, sulkes het ‘n ywer vir God, maar is sonder (Evangelie)kennis (v.2).
Hierdie geregtigheid wat die wet eis word nie vir ‘n oomblik afgeskaf nie. Wanneer Paulus verder in Rom. 10:4 sê: “Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo”, dan bedoel hy nie daarmee dat die wet nie steeds daardie geregtigheid eis nie. Die wet geld – “voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verdwyn, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.” (Matt.5:18). Indien ons vir ‘n oomblik wil beweer dat die werkverbond nie geregtigheid uit die wet vereis en daarom uit verdienste is nie, dan maak ons die aktiewe gehoorsaamheid van ons Meester tot niks. Ons moet nie net rus in die kruisdood van Christus waardeur hy die vloek vir ons gedra het nie, maar ook en veral in sy vervulling van die wet – die bewerking van geregtigheid uit die wet deur sy volmaakte wandeling onder ons. In die woorde van Beza:
“Ons moenie dink dat die Evangelie die wese van die Wet afgeskaf het nie. Inteendeel, die Wet bevestig die wese van die Evangelie (Rom. 10:2-4) … Want beide stel voor ons oë dieselfde God en die wese van dieselfde geregtigheid (Rom. 3:31).”
Juis in die handhawing van God se geregtigheid deur die wet word die genade – soos in die genadeverbond – soveel soeter, ryker en heerliker. Dat die pogings tot geregtigheid uit die wet telkens in ons ou harte opvlam en ons elke keer platgeslaan word deur ons hopelose onvermoë om God tevrede te stel en ons nogmaals besef dat ons niks aan Hom kan bied wat hy in Sy heiligheid sal aanvaar nie; dat ons werke drek is; dat daar niemand is wat goeddoen nie, selfs nie één nie – ja, dan word die Wet ons tugmeester (Gal. 3:23). Dit dryf ons met slae na ‘n geregtigheid buite onsself; ‘n geregtigheid wat uit die geloof is. Die Evangelie is nie nog ‘n wet nie. Dit eis geen werke nie. Christus alles, ek nul sê Kohlbrugge.
Waar wet en evangelie – en gevolglik werk- en genadeverbond – nie prinsipieel onderskei word nie, word die evangelie onvermydelik tot 'n nuwe wet omvorm, waarin die gelowige se eie gehoorsaamheid weer, al is dit ook net gedeeltelik of instrumenteel, as voorwaarde vir die verkryging of behoud van die heil inglip. Dan word Christus op subtiele wyses (en miskien onwetend) nie meer ten volle as Middelaar beskou nie.
Eksegeties ondermyn hierdie eenverbondsidee juis die antitese wat Paulus self tussen wet en evangelie, tussen doen en glo, as twee prinsipieel onderskeie wee tot die lewe handhaaf (Gal. 3:12; Rom. 10:5; Rom. 4:4-5). Indien die genadebeginsel reeds die dieperliggende substraat van die sogenaamde werkverbond was, verval die skerpte van Paulus se eie kontras tussen "die geregtigheid wat uit die wet is" en "die geregtigheid wat uit die geloof is" tot 'n blote retoriese sê-ding eerder as 'n werklike, prinsipiële teenstelling – iets wat die hele regverdigingsleer, soos deur die Reformasie teruggewen, in gedrang bring. Dieselfde geld vir Hosea 6:7: as die "verbond" wat Adam oortree het nie werklik as 'n selfstandige, werke-gefundeerde verbondsbedeling verstaan word nie, maar reeds as 'n uitdrukking van die genadeverbond self, verloor hierdie teks juis sy krag as eksegetiese bewys vir 'n oorspronklike, van genade onderskeie verbondsverhouding.
Dit is nie maar bloot ‘n historiese gevaar nie: dieselfde neiging het hom in die twintigste eeu opnuut in die sogenaamde Federal Vision-beweging voorgedoen, waarin juis die vervaging van hierdie onderskeid daartoe gelei het dat regverdiging weer, in meerdere of mindere mate, van die gelowige se eie verbondstrou afhanklik gestel is. Paulus se woorde uit Rom. 11:6 geld: “En as dit deur genade is, dan is dit nie meer uit die werke nie; anders is die genade geen genade meer nie. En as dit uit die werke is, dan is dit nie meer genade nie; anders is die werk geen werk meer nie.”
Die werk- en genadeverbond kan nie, vir die behoud van die Skriftuurlike onderskeid tussen Wet en Evangelie, verwar word nie. Die genadeverbond is die verbond met sy verskillende administrasies gesluit ná die val in Genesis 3. Die wat deur die geloof in Christus is – is binne die kader van die genadeverbond opgeneem. Vir hulle geld dit dat die werkverbond se eise (die Wet se eise) deur Christus vir hulle volbring is – Hy is die borg (Heb. 7:22). Dit bied pastorale sekerheid vir die gelowige, wie se saligheid nie op enige vorm van eie gehoorsaamheid, hoe subtiel ook al binne die verbondstruktuur ingebou, hoef te rus nie, maar volledig op die buite-myself, toegerekende geregtigheid van die Middelaar wat, as tweede Adam, self aan die werkverbond en al die eise daaraan verbonde voldoen het.
Luther sê in sy kommentaar op Galasiërs iewers dat daar geen vaardigheid meer fundamenteel in ‘n teoloog moet wees nie as die vermoë om tussen wet en evangelie te onderskeid. Elkeen, gaan hy dan voort, wat nog nie so ver gekom het om te weet wat die wet is en wat die evangelie is nie, of wat dit wel weet maar versuim om die onderskeid daartussen te handhaaf, sal noodwendig alles verwar – die hemel en hel, lewe en dood – en sal misluk om enigiets reg aangaande Christus te ken.
Luther maak hierdie punt herhaaldelik teen Erasmus in sy bekende werk The bondage of the Will. Hy voer aan dat die meeste van Erasmus se eksegetiese en teologiese foute juis uit hierdie een tekortkoming voortspruit: om evangelie-woorde as wet te behandel, of wet-woorde asof dit belofte en evangelie is.
‘n Simptoom van bogenoemde skuil, myns insiens, ook in die verwarring tussen die werk- en genadeverbond en die gevolglike handhawing van ‘n een-verbond-beskouig.
Die onderskeid tussen werk- en genadeverbond is dus nie 'n skolastiese stelsel wat teoloë vir hul eie intellektuele genot uitgedink het nie – dit is die noodsaaklike grammatika waardeur die evangelie self verstaanbaar word. Waar hierdie onderskeid vervaag, vervaag ook die kruis se diepste betekenis: dat Een gekom het om te doen wat ons nie kon doen nie, en te dra wat ons nie kon dra nie. Verwar 'n mens wet en evangelie, werk en genade, dan verloor die kruis stelselmatig sy skerpte, en sluip die mens se eie pogings tot geregtigheid – hoe subtiel ook al vermom as "verbondstrou" of "geloofsgehoorsaamheid" – weer by die agterdeur in.
Daarom bly dit, met Beza, Ursinus, Turretin en vele ander van hierdie getroue Gereformeerde vaders, geen haarklowery om die twee verbonde – en daarmee wet en evangelie – prinsipieel te onderskei nie, maar juis die enigste weg waarlangs die gelowige met opregte rus kan sê: nie ek nie, maar Hy. Dít is die suiwer klanke van genade wat werklik genade bly.
* Die belofte lê implisiet in die bevel opgesluit. Die bevel suggereer dat Adam - indien hy die bevel sou gehoorsaam - deur die Here die ewige lewe geskenk sou word.
† Daar is verskeie terme wat vir hierdie verbond gebruik word, o.a.: natuur-, wets- en skeppingsverbond.
‡ Soteriologie is die leer van die verlossing.
** J.M. Frame o.a. Definieer in lyn hiermee genade soos volg: “sovereign, unmerited favor, given to those who deserve his wrath"
†† In die Gereformeerde Teologie bekend as unitas foederis, diversitas administrationum. Die verbond met Moses is ‘n debatspunt in die tradisie. Daar word gevra tot hoe ‘n mate die wet weereens hier ‘n werk-beginsel, soos in die werkverbond, inbring. Hierop kan ek nie ingaan nie alhoewel ek self my by Witsius en Calvyn skaar wat die inhoud van die wet weer benadruk maar nie die werk-beginsel in die verbond nie. Ook die Mosaïese verbond bly ‘n administrasie van genade.
‡‡ Op die voorhangsel was gérubs geborduur wat ons herinner aan die gérubs wat voor die poort van die Tuin van God geplaas is met die swaard wat vlam en flikker om toegang tot God te versper.