Die Institusie van die Christelike Godsdiens is moontlik die invloedrykste skrywe wat uit die Hervorming gekom het. Hierdie beroemde werk van Johannes Calvyn het verskeie uitgawes beleef: die eerste is in 1536 gepubliseer en die laaste in 1559. Die finale uitgawe bied ’n omvattende uitleg van die Christelike godsdiens, waarin sowel leer as lewe aangespreek word. Calvyn se insigte oor laasgenoemde is veral hoog op prys gestel. Die gedeeltes oor die Christelike lewe is reeds in 1540 apart van die volledige werk gepubliseer, en deur die eeue het talle vertalings van Boek 3, hoofstukke 6 tot 10, verskyn. In die Engelssprekende wêreld was dit algemeen bekend as A little book on the Christian life en in Nederland as Johannes Calvijn’s gulden boekske over den regt Christelijken wandel (Johannes Calvyn se goue boekie oor die regte Christelike wandel).
Die artikels in hierdie reeks lig slegs enkele beginsels en insigte uit Calvyn se goue boekie uit. Die leser word dus aangemoedig om self hierdie boekie of die betrokke gedeeltes in Die Institusie te lees. Calvyn sê niks nuuts in sy boekie nie, maar die bewoording en insigte van ’n ander kan soms ou, bekende idees wat in ons harte en verstande al dof geraak het, weer nuut laat blink.
Die doel en dryfveer van die Christelike lewe
Waarom is ons gered? Tot watter doel is ons verlossing? Wat is God se plan vir ons? Ek praat nou nie van ons uiteindelike of eskatologiese doel of bestemming nie (d.w.s. die ewige lewe in volmaakte gemeenskap met God), maar van ons huidige doel, die doel van ons verlossing hier op aarde. Die doel is beslis nie dat ons gemaklik en onverpoosd voorspoedig sal lewe, soos sommige beweer nie. Die doel van die Christelike lewe is eerder om in heiligheid te wandel. Dít is ons groot roeping, die hoofsaak in ons lewe (Ef. 2; Matt. 5:48 ens.). Calvyn stel dit so:
“God se plan met ons is om ons lewens in ooreenstemming met Sy geregtigheid te bring en om só aan onsself en ander ons identiteit as God se aangenome kinders te wys.”
As die doel van die Christelike lewe dan is om heilig te lewe, wat behoort ons na hierdie doel te dryf? Wat moet ons motiveer? Die dryfkrag agter die Christen se goeie dade is God se goeie dade wat Hy vantevore vir ons gedoen het. Dit is ’n algemene gedagte in die Skrif. In die teologie word daar gepraat van die indikatief (dit wat God gedoen het) en die imperatief (dit wat ons gebied word om te doen, omdat God iets gedoen het). Hier volg twee voorbeelde:
Exodus 20:2–17
Indikatief: “Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.”
Imperatief: “Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie …”Kolossense 3:1–5
Indikatief: “As julle dan saam met Christus opgewek is … en julle lewe is saam met Christus verborge in God.”
Imperatief: “Maak dood dan julle lede wat op die aarde is …”
’n Gehoorsame, godvresende lewenswandel vloei dus voort uit die weldade wat God aan ons bewys het. Calvyn teken twee beelde om dit te illustreer: (1) Ons was verlore skape, maar God het ons gevind en na Homself geneem. Hy is nou ons Herder wat ons roep om Hom te volg. As ons reg op Sy roep en reddingsdaad wil reageer, dan moet ons Hom mos volg. (2) God het ons uit die bose, vuil wêreld gehaal en in Sy reine huishouding ingeneem. Dit sal mos nie reg wees as ons Sy goeie woning – gratis en sonder verdienste met ons gedeel – vuil maak soos die wêreld daarbuite nie. Calvyn illustreer hierdie beginsel verder op ’n nog treffender manier met wat hy “die gelukkigste fondamente waarop ’n mens sy lewe kan bou” noem:
Die Vader het ons as Sy kinders aangeneem*. Ons word dus geroep om ons plek waardig vol te staan. As ons onsself nie as Sy waardige en gehoorsame kinders gedra nie, bewys ons onsself as uiters ondankbaar.
Die Seun het ons skoon gewas en deel van Sy reine liggaam gemaak. Ons mag dan mos nie Sy liggaam weer vuil maak nie!
Die Gees het ons tot sierlike tempels gemaak, tot die tuiste waarin Hy woon. Ons kan dan mos nie Sy woning besoedel en ontheilig nie!
Dit is die beginsels van ’n heilige lewenswandel. Wanneer ons hierdie dinge voor oë hou, sal dit ons aanspoor om reg te lewe. Want as daar enigsins liefde vir God en dankbaarheid vir Sy reddingswerk in ons harte leef, sal hierdie beelde ons gewis diep ontroer en ons aanspoor om in gehoorsaamheid aan Hom te lewe.
Die Christelike lewe is ’n hartsaak
Aangesien liefde, dankbaarheid en pligsbesef die mens tot gehoorsaamheid aan God moet aanspoor, veronderstel dit ’n diep, innerlike oortuiging van die evangelie. ’n Opregte Christenlewe word dus nie aan lippetaal geken nie, maar aan die gesindheid van die hart. Dit baat ons niks as die evangelie slegs in ons verstande sit nie. Dit moet ook in ons harte ’n tuiste vind. Kennis van die evangelie wat bloot verstandelik is, kan wel mooi met die mond verwoord word, maar opregte lewenswandel kom eers waar dit ook in die hart gesetel is.
Volgens Calvyn het iemand wat Christus bely, maar nie geleer het dat die ou mens afgelê en Christus aangetrek moet word nie, Christus nog nie reg leer ken het nie en hy beweer valslik dat hy ’n Christen is. Hy sê verder:
“Die evangelie is immers nie ’n leer van lippetaal nie, maar van die lewe. Dit word ook nie slegs deur die verstand of geheue tot jou eie gemaak, soos ander dissiplines nie, maar ’n mens kry dit eers wanneer dit sy hele siel in besit neem en ’n setel en oord in die diepste stemming van ’n mens se hart vind.”
Die leer van die evangelie moet in ons harte wees, ons van binne af verander en uiting vind in ons daaglikse lewe. As die Christelike lewe nie ’n saak van die hart is nie, is die leer van die evangelie onvrugbaar.
Geroep tot ’n voortdurende stryd
Die Christen se roeping is hoog – “wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is”, gebied ons Here (Matt. 5:48). Ons moet egter nie dink dat ware Christene ’n lewe van ongebroke volmaaktheid lei nie. Ons sal nooit in hierdie lewe volmaak kan wees nie (1 Joh. 1:8). Terselfdertyd moet ons nie die hande slap laat hang nie, maar volmaaktheid begeer, daarna strewe en dit altyd as ons doel voor oë hou. In die wedloop van die lewe, meen Calvyn, is dit opregtheid en ongeveinsdheid wat God as die belangrikste deel van ons diens aan Hom prys.
Boonop is die Christelike lewe ’n voortdurende stryd, ’n stryd wat sal aanhou tot op ons laaste dag. Ons moet dus nie moedeloos raak as ons soms voel dat ons vordering op die pad van heiligheid traag is nie. In hierdie lewe sal ons nooit die punt bereik waar al ons innerlike verdorwenhede heeltemal verslaan is nie. In Calvyn se woorde:
“Maar omdat niemand in hierdie aardse gevangenis van sy liggaam so ’n groot krag het dat hy met voldoende vurigheid die wedloop kan hardloop nie, en omdat hulle swakheid ’n groot aantal so platdruk dat hulle al wankelend en struikelend net effens vorder terwyl hulle selfs op die grond rondkruip, moet elkeen van ons volgens die maat van sy vermoë voortgaan en op die pad waarmee ons begin het, vordering maak. Niemand sal so teenspoedig op die pad gaan dat hy nie ten minste elke dag ’n stukkie van die pad aflê nie. Ons moet dus nie ophou om hiermee besig te wees nie, naamlik om voortdurend ’n ietsie op die pad van die Here te vorder en om ook nie as gevolg van geringe sukses moed te verloor nie. Want al sou ons sukses nie aan ons wense beantwoord nie, is ons inspanning tog nie verlore wanneer vandag gister oortref nie, mits ons maar in opregte eenvoud ons oë op ons doel gevestig hou en na die wenpaal strewe, onsself nie flikflooiend vlei en aan ons gebreke vrye teuels gee nie. Ons moet ons met volgehoue inspanning daarop toelê om beter daaruit te voorskyn te tree as wat ons is, totdat ons die goedheid self bereik het. Ons soek wel ons hele lewe lank daarna en verkry en bereik dit eers wanneer ons die swakheid van ons vlees afgeskud het en tot volle gemeenskap daarin aangeneem is.”
Ons sal sukkel en ons sal steier, maar nie sonder hoop of die vooruitsig van volkome oorwinning nie. Christus, ons ouer Broer en Held, het ons vooruitgegaan en reeds die oorwinning behaal. Ons moet Hom net volg, met ons oë op Sy geweldige, wapperende vaandel gerig.
*In die antieke wêreld was aangenome persone gewoonlik nie klein kinders soos vandag nie, maar jong mans wat deur ouer, welgestelde mans waardig geag is om hul erfgename te wees. Op die skouers van die aangenome kind het dus ’n plig gerus.