Die Jaloerse God
Jaloesie word algemeen deur ons as ‘n ondeug gereken – ‘n ongewensde morele eienskap wat ons nooit moet hê nie. Tog word daar vir ons in die Skrif gesê (en menigte kere so) dat God jaloers is. Op die oog af, val hierdie beskrywing van God se karakter ons sleg op die oor en dit mag moontlik ‘n gelowige laat struikel. “As God goed is”, sal ons vra, “hoe kan Hy dan jaloers wees?” Daarom wil ek hier die hoedanigheid van God se jaloesie ondersoek en uiteindelik bewys dat dit, soos alle ander eienskappe van God, ‘n lofwaardige eienskap is.
God se jaloesie geopenbaar
Dat die enige ware God ‘n jaloerse God is, is geen versinsel van die mens nie. Dit word duidelik geopenbaar in die Woord. In die Ou Testament is daar talle verwysings na God se jaloesie. Met Israel se uittog uit Egipte, is dit een van die eerste eienskappe van Homself wat God aan hulle openbaar. In die tweede gebod (gerig teen die gebruik van afgode) sê Hy: “Ek, die Here jou God, is ‘n jaloerse God” (Exo. 20:5). Daarna, tydens die groot openbaringsgeleentheid van Exodus 34, sê God aan Moses (weereens teen die gebruik van afgode), “die Here se naam is Jaloers – ‘n jaloerse God is Hy” (Exo. 34:14). Dat God dit juis by hierdie geleentheid aan Moses openbaar is opvallend en dit suggereer dat dit ‘n eienskap is waarop die volk moet let, net soos die eienskappe genoem in daai wonderlike gedeelte van verse 6 en 7. Dus skroom God nie om hierdie eienskap van Hom bekend te maak nie.
Verder word God as jaloers – soms ook vertaal as “ywerig” of “besitlik” – geopenbaar in die Wet (bv. Deut. 4:24, 6:15 en 32:16), Profete (bv. Esg. 8:3-5, 38:19, 39:25; Nah. 1:2; Sef. 3:8 en Sag. 1:14, 8:2) en geskiedenis boeke (bv. Jos. 24:19 en 1 Kon. 14:22). In die bogenoemde gedeeltes word God jaloers genoem wanneer afgode die eer wat Hom toekom ontvang en wanneer die volk ontrou is aan Sy verbond. Ook word daar gesê dat God jaloers of ywerig is vir toewyding aan Hom en vir die eer van sy Naam. Hierdie selfde redes wat God se jaloesie opvlam word in die Nuwe Testament herhaal, soos in 1 Kor. 10:22 (teen afgode) en Jak. 4:5 (vir Sy eer).
Vanuit die Skrifgetuienis sien ons dat God jaloers is oor sy volk en vir die eer wat hulle – as sy verloste uitverkorenes, eiendom en bruid – aan Hom verskuldig is. God is uiters besitlik oor wat syne is en sulke streng ywer mag moontlik vir ons moeilik wees om mee rekenskap te maak. Maar verdere ondersoek oor die hoedanigheid van hierdie eienskap van God sal ons help om die lofwaardigheid daarvan te begryp.
Die hoedanigheid van God se jaloesie
Hoe kan jaloesie ‘n deug in God wees maar ‘n ondeug in ons? En hoe kan dit wees dat God se jaloesie eerbied vir Hom in ons opwek? Om hierdie vrae te beantwoord moet ons twee feite in gedagte hou wanneer ons God se jaloesie oorweeg:
1. Stellings oor God se jaloesie is antropomorfies.
Antropomorfisme is die toeskrywing van menslike eienskappe aan nie-menslike wesens óf die beskrywing van dinge in terme wat uit die menslike bestaan ontleen word. Alledaagse voorbeelde hiervan is soos wanneer ons sê, “die wind huil” of “my foon is dood”. Die Bybel is vol van antropomorfiese stellings oor God. Daar word byvoorbeeld gepraat van God se arm, hand, vingers en oë, en dat Hy lag, vreugde het of toornig word. Ook word daar verwys na sintuie soos gehoor, sig en reuk. Regtelik moet ons besef dat God (die Drie-Eenheid voor die menswording van Christus en die Vader en die Gees daarná) nie ledemate of sintuie soos ons besit nie, maar hierdie taal word in die Skrif gebruik, eerstens, omdat dit begrippe en beskrywings is wat ons in ons menslikheid kan verstaan en, tweedens, omdat God persoonlik is (soos ons) en ons na sy beeld geskape is. In ander woorde, antropomorfiese taalgebruik is die doeltreffendste manier hoe God met ons kan kommunikeer.
Met dit in gedagte, moet ons dan besef dat hierdie antropomorfiese beskrywings van God geen van ons menslike tekortkominge of beperkings dra nie. Byvoorbeeld, God se reddende arm en hand het nie beperkte lengte of krag soos ons s’n nie, en sy toorn is nie onbeheerst of onregverdig soos ons s’n soms is nie. Net so, word God se jaloesie nie gekenmerk deur hebsug, afguns of wrok soos menslike jaloesie so dikwels doen nie, maar God se jaloesie is sonder vlek of besmetting. Dit is rein, opreg en goed. Om verder die lofwaardigheid van hierdie eienskap van God te begryp, moet ons reg die verskillende uitdrukkings van jaloesie onderskei.
2. Jaloesie as deug en ondeug.
Jaloesie word algemeen slegs as ‘n ondeug beskou, maar daar is ook ‘n vorm daarvan wat goed, reg en eerbaar is. Die slegte vorm van jaloesie sê, “Ek wil hê wat jy het, en omdat ek dit nie het nie, verag ek jou”. Hierdie houding spruit uit hebsug, afguns, kwaadwilligheid of gemeenheid uit. Naasteliefde ontbreek en dit word deur hoogmoed gevoed. Dit is waarlik ‘n verdorwe en sondige ondeug.
Daarteenoor, is die goeie vorm van jaloesie, wat beskryf kan word as ‘n ywer om iets kosbaars te beskerm en te wreek as dit geskend sou word. Dit is ‘n opregte besitlikheid oor iets wat uiters waardevol is en waaragtig aan jou behoort. Seker die beste uitdrukking hiervan word in die huwelik gesien: ‘n Man is jaloers oor sy vrou, want haar verhouding met hom is kosbaar en sy behoort slegs aan hom – hy wil die intimiteit wat hy met haar het met niemand anders deel nie. Ons almal sal instem dat hierdie tipe besitlikheid in die huweliksverhouding goed en reg is en dat enige man wat nie jaloers word as die eksklusiwiteit van sy huweliksverhouding bedreig word, nie die waarde van die huwelik óf die waarde van sy vrou waardeer nie. Net so, moet ons God se jaloesie vir sý bruid sien: God het uit liefde sy bruid verlos en vrygekoop van die verderf en die dood, en sy nimmereindigende trou en verbondsliefde aan haar gesweer – sy behoort geheel en al aan Hom. Sy is alleenlik Syne. Daarom word Hy jaloers as sy met afgode hoereer en die eksklusiewe huweliksverhouding, wat Hom teregtelik alleen toekom, skend. Calvyn het dit goed gestel:
“Want die band waarmee God ons aan Hom bind wanneer Hy ons in die skoot van die kerk opneem, is soos 'n heilige egverband, wat op wedersydse trou moet berus. Soos Hy al die pligte van 'n getroue en betroubare eggenoot nakom, so stipuleer Hy op sy beurt vir ons die liefde en reinheid van 'n huwelik. Dit beteken dat ons ons siele nie aan die Satan, aan ons bose luste of aan die skandelike begeertes van ons vlees in ontug sal ontheilig nie...So getuig die Here, wat in waarheid met ons getrou het, dat sy jaloersheid baie heftig is as ons die reinheid van hierdie heilige huwelik verwaarloos en ons met goddelose wellustigheid besmet maar veral dan wanneer ons die diens wat ons aan sy Goddelike mag moet bring, wat glad nie geskend behoort te word nie, op 'n ander oordra. Want so skend ons nie alleen die huwelikstrou nie, maar ons besoedel die huweliksbed met owerspel.”
As ons God se jaloesie só in die konteks van die huweliksband sien, dan sien ons die goedheid en lofwaardigheid daarvan. God, ons Opperkoning en goeie Eggenoot, is erg besitlik oor sy bruid omdat Hy regtelik sy eer soek en omdat ons vir Hom uiters kosbaar is.
Ons reaksie op God se jaloesie
Dat God ‘n jaloerse God is moet ons dus nie aanstoot gee nie, eerder, dit moet ons tot eerbied en ywer vir Hom dryf. Net soos die getrouheid en liefde van ‘n menslike eggenoot die ander een in die verhouding tot groter trou en liefde behoort te dryf, behoort ons trou aan en liefde vir God te vergroot as ons op Sy regverdige, beminlike besitlikheid oor ons let. Hy is ons Eggenoot en ons Koning wat ons, sonder verdienste, verlos het. Ons is alles aan Hom verskuldig omdat Hy alles vir ons gegee het.