Geloof soos Abraham

Die grondbeginsel van die Christelike godsdiens, met betrekking tot die mens se uitlewing en ervaring daarvan, is geloof. Geloof is dit wat die kinders van God onderskei van die heidendom, daarom die woorde “gelowiges” en “ongelowiges”. Geloof is die middel waardeur die mens met Christus Jesus verenig word, vryspraak van sondes ontvang en geregtigheid in die oë van God beërwe.

J. I. Packer het eens gesê, “Geloof is om op God te vertrou, deur te glo wat Hy vir ons gesê het. God het gespreek en vir ons beloftes gegee. Geloof is dus om die beloftes te vertrou en om op die God van die beloftes te vertrou”. Soos baie dinge in die lewe kan ons leer om na ‘n praktiese voorbeeld te kyk, en waar beter sal ons die uitlewing van geloof sien as by die een wat die “vader van die geloof” (vgl. Rom. 4:11) genoem word – die groot patriarg – ons vader Abraham.

God se beloftes en Abraham se geloof

God het groot beloftes aan Abraham gemaak. Nie net het God belowe dat Abraham ‘n seun sal kry nie, maar dat sy nageslag so veel soos die sterre in die hemel sal wees (Gen. 15:5) en dat selfs nasies en konings uit hom sal voortkom (Gen. 17:16). Verder belowe God dat Sy verbond met Abraham se eersgeborene, Isak, opgerig sal word en dat Isak die volgende skakel in die uitbreiding van die beloofde nageslag sal wees (Gen. 17:19). Hierdie vooruitsigte was aanvanklik vir die bejaarde Abraham ondenkbaar en belaglik. Hy het letterlik gelag en verneem dat hy en sy vrou veels te oud is om ‘n seun te verwek (Gen. 17:17).

Ten spyte van die skynbare onmoontlikheid van God se beloftes, het Abraham vir God geglo. Paulus gebruik sterk woorde om Abraham se vertroue te beskryf: hy het nie “verswak in die geloof” nie, hy het “nie aan die belofte van God getwyfel nie” en hy was “ten volle oortuig” (vgl. Rom. 4:19-21). Dus het Abraham nie aggegee op wat hy gesien of gevoel het nie – al het sy sintuie, verstand en omstandighede hom anders probeer oortuig – maar hy het hardnekkig en onverbiddelik vir God geglo.

Ná die geboorte van Isak sien ons, dink ek, nog ‘n groter en meer diepgaande beoefening van geloof – toe God vir Abraham sê om die kind van die belofte te offer. Verbeel jou vir ‘n oomblik die gedagtes wat in Abraham se vertand moes geflits het: Is Isak nie die beloofde seun nie? Het God dan nie belowe dat deur Isak my nageslag sou voortgaan nie? God het tog hierdie einste seun, en nie ‘n ander een nie, my erfgenaam gemaak. Hoe kan God dan nou hom van my af wegneem? Dit maak nie sin nie! Ek verstaan dit nie!

Maar kyk, daar stap Abraham tog die berg Moría op, met die hout en die vuur en die mes. Hoe swaar moes daardie treë nie gewees het nie? Hoe moes sy rede hom nie gekwel nie? Hoe moes sy ganse wese nie teen God se geloofwaardigheid gestry het nie? Maar tog, hoe antwoord hy sy seun – “die Here sal voorsien” – en hoe antwoord hy sy God – met mes in die hand, dreigend oor sy geliefde en enigste seun. So het Abraham, ongeag enige menslike rede of begrip, op God en sy beloftes vertrou dat hy selfs bereid was om die kind waardeur al die beloftes bewerkstellig sou word, te offer.

Abraham ons voorbeeld

By Abraham kan ons minstens twee dinge leer:

1. Ons moet God en sy beloftes glo, gee nie om wat ons voel of dink nie, of wat ons omstandighede vir ons getuig nie.

Ons gevoelens en rede is wankelende riglyne om God se betroubaarheid aan te meet. As ons volgens dit oordeel, dan sal die Christelike lewe altyd soos ‘n wipplank wees – as ek in ‘n goeie emosionele stand is, dan is God goedgunstig oor my; as ek ongelukkig is, dan moet God sekerlik nie meer naby wees nie. Dieselfde kan oor ons lewensomstandighede gesê word. Natuurlik sal ons emosies en omstandighede ons beïnvloed, en ek sê nie ons moet in houtblokke verander wat die op- en afdraandes in die lewe met apatiese lusteloosheid verdra nie. Nee, maar, ons vertroue op God en sy beloftes kan nie op hierdie dinge begrond wees nie.

Waarop moet ons vertroue dan begrond wees? Ons vertroue is begrond op wie God sê Hy is en op sy betroubaarheid wat Hy deur die eeue bewys het. Ons geloof is dus nie ‘n redelose of roekelose vertroue nie, nee, ons vertrou op God en in sy beloftes omdat Hy nog altyd Homself as betroubaar bewys het. Dink aan die talryke beloftes in die Skrif wat Hy volbring het. Kyk na Abraham. Het God nie vir hom die beloofde seun en naggeslag gegee nie? Was Isak toe nie die erfgenaam gewees nie?

2. Ware geloof gee uiting aan dade

Volgens die Heidelbergse Kategismus bestaan ware geloof uit kennis en vertroue. Hier behels kennis ‘n intellektuele instemming van dit wat in God se woord en werke geopenbaar is – d.w.s. jy aanvaar die openbaring (insluitend God se beloftes en vervulling van beloftes) as waar en geloofwaardig. Dit is baie belangrik, want hoe kan jy iets glo wat jy nie as waar en werklik aanvaar nie? Maar bloot intellektuele instemming is nie genoeg nie – “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder” (Jak. 2:19).

Jakobus sê dat geloof sonder werke dood is (Jak. 2:17). Hiermee meen hy nie dat geloof en werke twee dele is wat saam regverdigheid bewerkstellig nie. Die opvolgende verse weerlê so ‘n gevolgtrekking:

“Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is? Is Abraham, ons vader, nie uit werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie? Sien jy dat geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke? En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ‘n vriend van God genoem.” (Jak. 2:20-23)

Hier verbind Jakobus Abraham se gewilligheid om sy seun te offer (Gen. 22) aan sy vertroue in God se eerste belofte wat hom tot regverdigheid gestel het (Gen. 15). Let op dat die laasgenoemde gebeurtenis lank voor die eersgenoemde plaasgevind het. Daarom sê Jakobus dat “geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het”. Dus was Abraham se gewilligheid om vir Isak te offer ‘n daad wat saam met sy geloof gegaan het, om sy geloof volkome te maak (let ook op dat die geloof die voorwerp is wat volkome gemaak was en nie die werke deur geloof nie). In ander woorde, Abraham se dade was ‘n uiting of uitvloeisel van sy vertroue in God, wat die egtheid van sy geloof bewys het. En waarom het hy vertrou? Omdat hy werklik oortuig was dat God sal doen wat Hy belowe het. So is die Skrif deur Abraham se dade vervul en sy geregtigheid is geregverdig.

Martin Luther het gepraat van ‘n fides viva (“lewendige geloof”) om ware geloof te beskryf. Hy het gesê geloof is ‘n “lewendige, vrymoedige vertroue in God”, dit is ‘n “lewendige, besige en aktiewe” ding, en “dit is onmoontlik dat dit nie voortdurend goeie werke doen nie”. Want, het hy gesê, “waar geloof is, is die Heilige Gees altyd teenwoordig en Hy is nooit ledig nie”. Dus sal Luther – saam met Paulus en Jakobus – sê dat ons deur geloof alleen gered word, maar dat daardie geloof nooit alleen is nie.

Ware, reddende geloof is dus ‘n omvattende ding, iets wat jou ganse wese betrek. Dit betrek die verstand en die hart. En as hierdie setels van menslike bestaan betrek word dan moet ons lewens mos uiting gee daaraan, nie waar nie? Verbeel jou iemand (‘n Noord-Europese heiden in die sewende eeu of ‘n hedendaagse Hindu) wat ‘n sekere gesnede afgod aanbid het, maar nou blyk dit of hy tot bekering gekom het. As hierdie persoon werklik in sy verstand erken dat die Drie-enige God die enigste ware God is en werklik in sy hart oortuig is dat die ware God die enigste bron van saligheid is, dan sal hy mos beslis nie meer na die afgod toe gaan nie, maar homself eerder omdraai na die ware God toe. En as hy sê of dink, “ek glo in die Drie-enige God”, maar steeds sy saligheid by die afgod soek, dan vertrou hy nie in sy hart op God nie en hy “glo” dus nie eintlik nie. Net so, as hy voortgaan om sy saligheid by die afgod soek, dan kan hy moes nie ‘n werklike verstandelike oortuiging hê wat getuig, “die Drie-enige God is die enigste ware God” nie.

Om in ‘n woord saam te vat: verstandelike instemming en hartlike vertroue maak saam ‘n ware, lewendige en reddende geloof, en die vrug en bewys van so ‘n omvattende geloof is ‘n gehoorsame, godvresende lewe. Abraham het só ware geloof gehad en sy dade het dit bewys. Sy instemming van en vertroue op God se beloftes het hom daardie dade laat doen.

Kinders van Abraham

As kinders van Abraham, moet ons ons vader se voorbeeld volg. Ons moet glo en vertrou wat God gesê het ongeag ons gevoelens of omstandighede of hoe ook al die skyn van dinge is. En daardie geloof moet so omvattend wees dat dit voortdurend uiting gee aan ‘n lewe van gehoorsaamheid. Abraham se voorbeeld dwing ons om onsself te ondersoek: Is my geloof meer as net ‘n bloot intellektuele instemming van die dinge wat in die Bybel staan, betrek dit ook my hart? Dwing hierdie geloof my om my lewe op ‘n sekere manier te leef – vermy ek sekere dinge en doen ek eerder ander dinge weens my oortuiging van wat ek in die Bybel lees en van die kansel af hoor? Laat ons ons heil met vrees en bewing uit werk.

Maar, helaas, hoor ek iemand sê, “ek glo nie só nie, of ten minste nie altyd só nie, ek is maar klein en gebrekkig in geloof”. Laat daardie een getroos word met die wete “dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Fil. 2:12). Vra daarom ons barmhartige God, soos die apostels, om jou meer geloof te gee (Luk. 17:5) en roep uit na Hom soos daardie vader om jou ongeloof te hulp te kom (Mark. 9:24). Ons Here Jesus is die Leidsman en Voleinder van ons geloof. Hy het ons vooruitgegaan en Hy was sterk en geweldig in die stryd. Weet – vertrou daarop met sekerheid – dat Hy jou sal hoor en jou sal help, want, Hy het dit belowe.

Next
Next

Die Geknakte Riet en Dowwe Lamppit