Die Geknakte Riet en Dowwe Lamppit

Richard Sibbes (1577-1635), een van die eerste en vooraanstaande Puriteine (daardie groep sewentiende-eeuse Engelse Protestante wat hul beywer het tot die “reiniging” – verdere hervorming – van die Engelse Kerk) was bekend vir sy ryke en troosvolle aanbieding van die evangelie. Weens die aard van sy prediking en skrywe, was hy deur sy tydgenote name gegee soos “the heavenly Doctor Sibbes” en “the sweet heavenly Doctor”, en “the sweet dropper”. Sibbes het die vermoë gehad om die heerlikheid en soetheid van God se liefde en genade met klaarheid af te skilder, sodat die bedroefde sondaar verfris en verhef kon word.

Sibbes se bekendste skrywe The Bruised Reed (1630), is ‘n uitvoerige uitlegging van Jesaja 42:1-3:

“Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel 'n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring. Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie. Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring”

Die deurlopende motief van die boek is vers 3 – dat Christus belowe het om nooit die geknakte riet te breek en die dowwe lamppit te blus nie. Gegrond op hierdie belofte, bring Sibbes vir die leser die geduldige en volmaakte liefde van Christus, bemoediging vir moedelose sondaars en raad vir gelowiges om te groei en te volhard.

In hierdie artikel wil ek kortliks enkele temas in The Bruised Reed uitlig, met die hoop dat dit – soos die Walliese prediker Martyn Lloyd-Jones eens oor die boek gesê het – die leser sal “troos, bemoedig en genees”.

Die geknakte riet en dowwe lamppit

Volgens Sibbes, is die geknakte riet en dowwe lamppit gesamentlik ‘n “poor distressed man”, die mens wat ons Here in Mattheus 5:3 “arm van gees” noem. Hierdie mens, sê Sibbes, sien hy benodig verlossing, maar sien ook terselfdertyd die regverdige oordeel wat oor hom hang. Hy is bedroef, want hy sien geen uitkoms in homself of in geskape dinge nie, maar ten spyte van sy nood, is hy onseker of God gewillig is om hom ontferming te toon.

Verder maak Sibbes onderskeid tussen die toestande van “geknakte riet” en “dowwe lamppit”. Die “geknakte riet” word gekenmerk deur ‘n kneusende sondebesef, hy reken sonde die grootste boosheid op aarde en hy het ‘n lae aansien van homself, maar hy verbeel hom onwaardig vir God se genade. Hy is swak en broos, op die drempel om te breek.

Die “dowwe lamppit” is iemand wat geloof het (dus ‘n lamppit), maar daardie geloof en hoop blyk slegs ‘n smeulende vonkie te wees. Dit is daar, maar dit is klein en kwesbaar. Die kleinste versteuring of windjie het die mag om dit te blus. Die vonkie se dofheid is weens twyfelings en vrese. Die ou-mens wat nog aan hom kleef, smoor en verdruk die bietjie lig wat hy het.

Die toestande hierbo beskryf is nie onbekende ongesteldhede van die Christelike lewe nie. Dit is beslis nie net tot nuwe bekeerlinge beperk nie. Dus as jy soos ‘n geknakte riet en dowwe lamppit voel, weet dat dit juis hierdie mens is wie op God se genade aanspraak kan maak – “salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele” (Matt. 5:3). Sibbes sê:

“Let all know that none are fitter for comfort than those that think themselves furthest off...a holy dispair in ourselves is the ground of true hope. Christ’s tenderest care is over the weakest. The lambs He carries in His bosom” (Jes. 40:11)

Weet dat die Goeie Herder belowe het om nie die geknakte riet te breek of die dowwe lamppit te blus nie, maar dat Hy dit sal koester en versterk.

Die hart van ons Here Jesus en hoe Hy met die geknakte riet en dowwe lamppit te werk gaan

Hoe is die hart van ons Here? Hoe hanteer Hy die geknakte riet en dowwe lamppit? Sal Christus oor my goedgesind wees, al is ek swak, vuil en klein van geloof; al het ek Hom al soveel keer verloën? Is daar hoop vir my, die brose gelowige met slegs ‘n vonkie van geloof? Is ons Here nie te hard nie? Op sulke vra antwoord Sibbes:

Kyk na die moeder wie vir haar siek en eiewillige kind moet sorg. Sý verstoot hom nie. Al stoot die kind sy moeder se koesterende hand keer-op-keer weg, sy verdra en sorg steeds vir hom. Is daar meer ontferming in die arms van moeders as in Christus Jesus, wie hierdie moederlike liefde aan hulle besorg het?

Christus het die verantwoordelikhede van bruidegom, herder en broer op Homself geneem en Hy gebied ons om ook hierdie ampte op te neem. Nou dink vir ‘n oomblik hoe mooi jy die uitlewing van hierdie verhoudings in mense al gesien het – die teerheid van ‘n eggenoot, die veiligheid van omhelsende vaderlike arms, en die nabyheid van ‘n broer of suster. Sal ons as mense liefdevoller bruidegomme, getrouer herders en nabyer broers wees as Hy wat die bron van hierdie verhoudings is? Sal die spruit soeter as die fontein wees? Of die strale warmer as die son?

Kyk hoe besorgd was ons Here oor sy dissipels en hoe teer Hy met hulle was! Hoe het Sy hart nie na die skare geneig toe Hy hulle sien as “skape wat geen herder het nie” (Matt. 9:36). Toe Sy dissipels op die see bevrees was, sê Hy vir hulle “dit is Ek”, asof daar geen rede is om vir Hom bang te wees nie (Matt. 14:27). En hoe besorgd was Hy nie oor arme Petrus nie, nadat hy hom drie maal verloën het, toe Hy deur die engel aan die vroue sê, “gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus” (Mark. 16:7).

Die bostaande en menigte ander voorbeelde in die Skrif wys ons hoe goed en lief ons Here Jesus is. En Hy is vandag steeds só, al het Hy opgevaar na sy Vader toe. Sibbes sê:

“His advancement has not made Him forget His own flesh. Though it has freed Him from passion, yet not from compassion towards us” en “A father looks not so much at the blemishes of his child as at his own nature in him; so Christ finds matter of love from that which is His own in us. He sees His own nature in us”.

Laat die geknakte riet en dowwe lamppit dan met vrymoedigheid na Christus toe gaan, want daar sál hy oop arms en goedgesinde ontferming vind. Sibbes sê:

“We must know for our comfort that Christ was not anointed to this great work of Mediator for lesser sins only, but for the greatest, if we have but a spark of true faith to lay hold on Him. Therefore, if there be any bruised reed or smoking flax, let him not make an exception of himself, when Christ does not make an exception of him. For He says, ‘Come unto me all ye that labour and are heavy laden’. We are only poor for this reason, that we do not know our riches in Christ”.

Bemoediging vir arme gelowiges

Die leser mag dalk nou sê, “Hierdie blyk ‘n heerlike troos te wees. Ai, as ek maar tog net die dowwe lamppit was!” Net soos die vyand vir Christus belaster, so belaster hy ons ook. Sibbes gee hierdie pittige vermaning vir die wat oor hul stand twyfel:

“If you are not so much as smoking flax, then why do you not renounce your interest in Christ and disclaim the covenant of grace? This you dare not do! Why do you not give yourself up wolly to worldy pleasures? This your spirit will not allow you to do!”

Dus, as jy nie gewillig is om Christus en sy beloftes geheel en al te verloën nie en jy durf nie om jouself onverpoosd oor te gee aan wêreldse plesiere nie, dan is jy daardie dowwe lamppit wat aanspraak op Christus se genade kan maak. Want watter sorg het ‘n ongelowe vir Christus en Sy beloftes? Waarmee sal hy homself aangaande die evangelie bemoei? Waarom sal hy weerstand voel as hy vrye teuels het om in sy vleeslike begeertes te verlustig?

Nou hoor ek iemand anders sê, “Ek is te sleg dat Christus Hom oor my sal ontferm. Ek is te swak en het al te veel keer teen Hom gesondig.” Op hierdie weeklaag sal Sibbes antwoord:

In die aardse huweliksverbond is swakheid geen gronde vir verbreking van die huweliksverbond tussen man en vrou nie. Is ons dan meer verdraagsame eggenote as Christus, wie die voorbeeld en aanvoerder vir alle bruidegomme is? As ons nie weens swakheid die trouverbond kan breek nie, sal ons verbeel dat ons Here Sy verbond met Sy bruid sal verbreek, al struikel sy in swakheid? Dit kan mos nie wees nie! Boonop word mans gebied om hul “swakkere” eggenoot te verdra (1 Pet. 3:7) – sal ons dan verbeel dat Christus van Homself ‘n uitsondering van Sy eie gebooie maak en nie hierdie opdrag met Sy eie bruid nakom nie? Dis mos ondenkbaar!

Dus, laat die swakke nie in Christus se getrouheid twyfel nie. Hy het belowe om nie die geknakte riet te breek of die dowwe lamppit te blus nie. In Sibbes se eie woorde:

“Weakness, with acknowledgement of it, is the fittest seat and subject for God to perfect His strength in; for consciousness of our infirmities drives us out of ourselves to Him in whom our strength lies.”

Next
Next

Die Offers van Outonomie