Die Offers van Outonomie
‘n Rukkie gelede staan ek en een van my kollegas by die akademie en nadink oor die afgelope paar maande se gruwelike gebeure. Twee koelbloedige moorde in die VSA; een in Noordelike Carolina, die ander op ‘n Universiteitskampus in Utah. Albei is die neem van lewens geskape in die Imago Dei. Albei is daarom ‘n tragiese verlies. Tog is daar verskillende reaksies op hierdie twee moorde gewees. Die moord op Iryna Zarutska wat op ‘n trein op pad werk toe deur ‘n mes in die nek uitgebloei het is deur almal betreur en verdoem. Die publieke sluipmoord op Charlie Kirk voor die oë van duisende is deur baie (veral aan die kant van die linkse gepeupel) hartlik verwelkom. Wat is die oorsaak van hierdie uiteenlopende reaksies? Wat ontbloot sulke trane enersyds en skertsing andersyds?
Sonder om in veel besonderhede verstrengel te raak wil ek hier die geleentheid gebruik om een duidelike en skerp twispunt aan te raak: die kwessie aangaande outonomie.
Outonomie is ‘n woord saamgestel uit outo (self) en nomos (wet). Die outonome mens is die mens wat sy eie wet is. Hy handhaaf kiesvryheid – dat hy kan kies en doen net wat, waar en wanneer hy wil is die absurd en reduksionistiese idee van vryheid wat in die ego van meeste heers. Die hoogste strewe van die mens word kiesvryheid (vandaar die toeëiening van die woord: liberaal (-sime)). Die hoogste kruin van menslike sukses is self regering. Dat die mens die morele, siviele, juridiese en elke ander tipe wetgewing in eie hande neem is die essensie van outonomie. Dit word die afgod wat in die koue harte van die humanisme opstaan en wreed septer swaai. Dit is die uitgemergelde en verdwaasde diensknegte van hierdie afgod wat reg en geregtigheid eis vir sover en vir solank dit die outonomie van die self baat. ‘n Vreedsame samelewing het ook net plek in hierdie gruwelike raamwerk vir solank as wat daar voordeel vir die outonome mens is – en dit getuig, per implikasie, van die manipulasie en die misbruik van enige verhouding waarbinne die individuele ego en sy self aangedrewe wetmatigheid gedwing of vrywillig aan verbind word.
Dit gaan oor die self en dié se outonomie en hierdie outonomie is dwingend juis omdat dit aan die identiteit van die wese van die humanisme vorm gee. As dit aangetas word of versper word is die argument dat die méns in sy wese aangetas word. As die mens nie vry is nie, dan is die mens nie meer mens nie. Die gevolg is dat ‘n haat in die binneste gestook word teenoor elkeen of enigiets wat in die weg staan van waarlik menswees. Die hoogste deug – outonomie – moet ten alle koste beskerm en voor geveg word. Mede-menslikheid is wanneer ruimte gemaak word vir alle geure en kleure van ‘n relatiwistiese outonomie. Dis mens-liewendheid. Sodra outonomie op welke wyse ookal bedryg word is die mensdom self in gedrang en om dit te verhoed is die dood van die on-mede-menslike (lees: onmenslike) nie buite die kwessie nie. Die mens is immers nie Imago Dei nie, maar Imago sui ipsius (die beeld van die eie ek). En in daardie geval is daar nie werklik sprake van so iets soos gelykheid soos wat ‘n mens met die werklikheid van die mens as Imago Dei het nie. Maar die wêreld is groot en die opgeblase ego’s wat konsentriese sirkels om die ek trek beskik nog oor genoegsame ruimte vir die uitsprake ‘gemeenskaplike, verenigde mensdom’ of ‘die (ongedefineerde) liefde wen’ om in die linkse humanistiese gepeupel se woordeskat ten toon gestel word. In die naam van ‘gemeenskaplikheid’ word daar geveg vir outonomie – maar ten diepste bly dit ‘n resies van die oorlewing van die sterkste outonomiese strewe. Dis ‘n kwessie van tyd totdat die wat hierop inkoop teen mekaar draai en burgeroorlog uitbreek. Laat die sterkste een wen! Moor maar, dis in die naam van die hoogste gebod van outonomie geregverdig!
Dit bring my weer by Iryna Zarutska en Charlie Kirk. As die uiteenlopende reaksies van die Humanisme op hierdie twee moorde ten diepste deur die strewe vir outonomie gedryf word, is dit duidelik hoekom daar, respektiewelik, gehuil en gejuig word.
Iryna se weg tot outonomie is versper deur ‘n messteek in die nek. Sy het verloor wat haar ten diepste mens maak. Daarom die gehuil, die veroordeling van die onregmatige moord so koelbloedig gepleeg. Die groot ironie is egter dat sy van haar outonomie gestroop word deur iemand anders wat outonoom opgetree het. Ten slotte seëvier outonomie steeds! Dis ‘n klinkklare bewys dat outonomie nie die hoogste en heerlikste wese en strewe van die mens kan wees nie. Maar foei tog, hoe wens ons dat die gepeupel dit tog sal insien!
Ten diepste treur die gepeupel nie vir Iryna Zarutska en hoe sy hulpeloos in haar eie bloed moes lê en wegkwyn nie. Ten diepste word daar nie oor die moord op ‘n mens, waardig in die beeld van God geskape, geween nie. Ten diepste word daar geween en getreur oor die outonomie wat versper is.
Charlie Kirk was egter nie ten gunste van die outonomie van die mens nie. Hy het geglo in ‘n wet hoër as die mens en sy eie ego. Hy het geglo in die geskape mens – onderdanig aan God en in die beeld van God. Hy het geglo dat God, God is en die mens nie. Hy was daarom ‘n bedreiging vir die afgodiese offer van outonomie. Hy is daarop uitgehaal. Oorwinning vir die god van outonomie. Daarom die gelag, die geskater en die geskerts. Daarom die: hy het gekry wat hy vra.
Maar die gepeupel dink waarskynlik nie aan die onheilspellende skrif op die muur nie. Want in die aanbidding van die god van outonomie, in die lofverheffing tot die seëviering van die relatiewe, subjektiewe en self gemaakte wet van die opgeblase ego’s antwoord die god van outonomie: jy sal kry wat jy vra...
En dis hel. Daar sê die God van hemel en aarde: laat jou wil geskied.