Wat is Vryheid?
Die Evangelie van ons Here Jesus is in werklikheid ‘n evangelie van vrymaking. ‘n Evangelie van vryheid in 2 opsigte:
Enersyds ‘n vryheid van iets en andersyds ‘n vryheid tot iets.
As ons wil praat oor die vryheid van bv. die slawerny van die sonde en die ewige dood as skrikwekkende gevolg daarvan, dan begeef ons ons in die juridiese aspek van vryheid. Dit het te make met die status voor God. Vryheid is dus, in hierdie sin, ‘n status waarin elke gelowige, deur Christus, op grond van sy plaasvervangende soenverdienste geplaas is. ‘n Mens sou dit ook die forensiese vryspraak van Christus kon noem.[1] Gal. 5:1 verwoord hierdie vryheidsaspek duidelik: “Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het...” (d.w.s. Christus het ons vrygemaak!).
Maar wat uit die juridiese vryheid as status voortvloei is, wat ons kan noem, die etiese aspek. Uit die juridiese (die indikatief), vloei die etiese (die imperatief) want juis hierdie status van vry-wees, hierdie forensiese vryspraak, bring verantwoordelikheid mee en dit is waar die vryheid tot kwessie aangeraak word. Dit is dan ook waarop ons vanaand gaan fokus. As Paulus in Gal. 5:13 sê: “Want julle is tot vryheid geroep, broeders...” hoe lyk dit dan? Wat is daardie vryheid in konkrete, handelende sin?
Heel eerste moet ons besef dat die juridiese status konkreet manifesteer daardeur dat die mens weer is wat hy deur God gemaak is om te wees, nl. Beelddraer.[2] As beelddraer staan die mens natuurlik in verskeie grondverhoudinge. Vanaand kyk ons na 3 grondverhoudinge en hoe menslike vryheid dan in hierdie verhoudinge lyk. Hierdie 3 verhoudinge is:
· Die mens se verhouding tot God
· Die mens se verhouding tot die mens/medemens
· Die mens se verhouding tot die kosmos/wêreld
Menslike vryheid in verhouding tot God:
Die Christen bely dat daar Een hoër is as homself. “In sy verhouding tot God is daardie mens vry wat weet dat sy plek nie bo of langs of selfs teenoor God is nie, maar onder God.”[3] Teenoor die rasionalis en liberalis wat homself as outonome en finale outoriteit van sy eie wel en weë ag, veranker die Christen sy vryheid nie in homself nie, maar in God. Vanuit die geskiedenis kan ons soveel voorbeelde uitwys hoedat die mens sy vryheid nie in God soek nie, maar dit buite God om wil verwesentlik.[4]
Dink maar net aan die Franse Revolusie as voorbeeld met die bekende slagspreuk: Vryheid, gelykheid, broederskap. Daar word geëis dat bo die mens geen God of meester erken moet word nie. Vryheid word in die mens self verknog en veranker. Hy verkneg homself aan niemand anders nie, behalwe homself – sy eie drange, drifte en welluste. Hier is elke individu sy eie meester en ten slotte is daar geen mens meer met dieselfde idee van vryheid nie; verskillende vryheidsopvattings kom teenoor mekaar te staan. Die een se vryheidstrewe onderdruk die ander sin en die gevolg hiervan is natuurlik absolute denkverwarring, revolusie en uiteindelik chaos.
Die wat vryheid, in hierdie sin, in hulself veranker, verwoord dit dikwels in negatiewe sin. M.a.w. hulle sal dikwels sê dat vryheid on-gebondenheid of on-afhanklikheid of on-gedetermineerdheid ens. is. Maar hier kom ons juis tot ‘n groot probleem in terme van die mens se verhouding tot God. As ons vryheid negatief opvat (as on-bepaaldheid of on-gebondenheid) dan kan ons nie meer tussen Goddelike vryheid (of die vrymag van God) en menslike vryheid onderskei nie. Want as die mens sê dat hy vry is as hy on-gebonde is; kan dieselfde van God gesê word. God is vry want Hy is on-gebonde. Dieselfde geld vir on-bepaaldheid; God is vry deurdat niks of niemand hom enige bepalinge voorskryf of voorhou waaraan Hy hom behoort te onderwerp nie. Die gevolg hiervan is dan dat Goddelike- en menslike vryheid (wat radikaal verskillend is) op een vlak geplaas word. Dan word of menslike vryheid vergoddelik of Goddelike vryheid word vermenslik. Ons kan dus nie vryheid in sulke negatiewe bepalinge probeer definieer nie; dit neem nie die mens se regtelike plek in verhouding tot God in ag nie.
Ons het gesê dat die mens alleen vry kan wees as hy weet dat sy plek onder God is. “...God is in die hemel, en jy op die aarde” sê Prediker 5:1 vir ons. Ons kan dus hierdie verhoudingsraamwerk ‘n heer-en-kneg verhouding noem. Vervolgens beteken dit dat die mens in sy verhouding tot God dienaar is; hy dien God. Om te dien is juis iets tipies menslik; ‘n dier kan nie dien nie. Ware, positiewe, menslike vryheid behels dus diens, nie aan jouself nie, maar aan God.
Hoe lyk of gebeur hierdie diens aan God? Daar is twee dinge noodsaaklik vir vryheid as diens aan God:
· Die moontlikheid van keuse
· Gehoorsaamheid aan behorenseise (w.o. die wet van die Here)
Wat die moontlikheid van keuse betref: As ek nie kan kies om te dien en op ‘n bepaalde wyse te kan dien nie, is my handelinge of aksies nie toerekenbaar nie. M.a.w. ek kan daarvoor nie aanspreeklik gehou word deur God nie. God het aan Adam en Eva die moontlikheid om te kan kies gegee. Hulle kon kies om óf God te gehoorsaam óf om ongehoorsaam téén Hom te kies. Kiesmoontlikheid is dus aan hulle gegee en daarom is hulle ook aanspreeklik gehou. Daarom het God aan hulle gesê: “...van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie [gehoorsaamheid]; want die dag as jy daarvan eet [ongehoorsaamheid], sal jy sekerlik sterwe” (Gen.2:17). Vir vryheid as diens aan God is die moontlikheid van keuse dus ‘n vereiste.
Wat die gehoorsaamheid aan die behorenseise betref: Omdat die mens in die heer-en-kneg verhouding staan, is dit logies dat die heer (God) sy verordeninge vir die kneg (mens) uitlê en Sy eise of wette soos grenspale vir hom span. Daarsonder sou die mens se diens aan God nie verantwoordelik wees nie (want waarteenoor sou die mens dan verantwoordelik wees as God nie vanuit Homself Sy bepalinge aan die mens voorhou nie?) Daarsonder sou die diensbaarheid van die mens aan God ook geen orde gehad het nie (want waarvolgens moet die mens dan sy diens orden as God nie orde-riglyne daarstel nie?).
Vir vryheid as diens aan God is die moontlikheid van keuse en die gehoorsaamheid aan die verordeninge van God dus noodsaaklik. Maar, ware diens aan God kan eers as vryheid verstaan word as die regte keuses op grond van God se verordeninge gemaak word. As die mens gehoorsaam kies, dan eers is hy as dienskneg vry. As die mens teenoorgesteld in ongehoorsaamheid ‘n keuse maak wat teen die verordeninge van God kies, dan is hy nie vry nie.
Juis hier is waar so baie humanisties-liberalistiese kringe ‘n denkfout maak. Daar word gesê dat die feit dat ek kan kies of ek gehoorsaam of ongehoorsaam wil wees beteken dat ek vry is. Hier word kiesmoontlikheid met vryheid self dus vereenselwig. Hulle beweer dus dat jy kan kies om ongehoorsaam te wees en tog steeds vry is. M.a.w. ek kan teen Gód kies, en steeds vryheid geniet. Paulus leer ons egter in 2 Kor. 3:17: “Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.” Dit beteken ook die Gees van gehoorsaamheid wat in die harte van gelowiges woon. Alleen waar die gees van gehoorsaamheid heers kan die mens vry wees; want vryheid is (as diens aan God) om reg te kies en te handel. ‘Omdat God Gód is en die mens méns is, is vryheid as diens aan God ook totalitêr – ons dien God met ons hele hart, siel, verstand en al ons kragte.’[5]
Menslike vryheid in verhouding tot die mens/medemens:
Menslike vryheid in verhouding tot die mens kan nie dieselfde lyk as menslike vryheid in verhouding tot God nie. Tot God is dit totalitêre diens juis omdat Hy God is en die mens Hom daarom dit verskuldig is. Maar geen mens is vir ‘n ander mens God nie; alle mense is, as gelykes, wel beelddraers van God en daarom behoort die vryheid van die mens in verhouding tot die mens “kwalitatief” minder te wees as die totalitêre diens aan God. Hoe sou hierdie vryheid dan lyk? Christus wys ons hoe dit lyk in die tweede liefdesgebod wanneer hy sê: “... Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Matt.22:37-39).
Hierdie vryheidsopenbaring as naasteliefde word duidelik in die woorde van Gal.5:13: “...Julle is tot vryheid geroep ... dien mekaar [dan] deur die liefde.” Hierdie liefde is ‘n sorgende liefde wat doelgerig juis dit voor oë het, nl. dat hy sy naaste help lei “...tot die verwerkliking van sy deur God bepaalde bestemming”[6] Dit is naasteliefde. Hierdie liefde word openbaar in verskeie verhoudinge soos bv. die huwelik, gesin, volk, staat en in die besonder ook die kerklike of gemeentelike verhouding. Hierin word mekaar se vreugdes gedeel; mekaar se laste gedra en word daar na mekaar se onderlinge belange omgesien (Stoker).
Ook wat menslike vryheid in verhouding tot die medemens betref is daar twee vereistes:
· Weereens is dit die moontlikheid van keuse
· En die onderworpenheid of gehoorsaamheid aan behorenseise
Ek kan my naaste liefde betoon of nie liefde betoon nie; dit is ‘n keuse wat ek het en saam met hierdie kiesmoontlikheid word ek wat voor hierdie keuse staan aanspreeklik gehou. Ook in hierdie verband is ek dus toerekenbaar. Maar daarby word ook die gehoorsaamheid aan God se bepalinge tot liefdesdiens betrek. God beveel immers dat ek my naaste moet liefhê soos myself. Met hierdie gebod word daar verantwoordelikheid en orde in die liefdesdiens aan my naaste gewaarborg. Maar weereens geld dit dat alleen wanneer ek in gehoorsaamheid reg kies volgens Gods verordeninge, dan eers is ek vry.
Voorbeeld: ‘n Getroude man het, met betrekking tot sy vrou, kiesmoontlikheid. Hy kan kies om haar lief te hê of nie lief te hê nie. Saam met die keuses wat hy het, het hy egter ook bepaalde verordeninge of gebooie waaraan hy gehoorsaam moet wees. God beveel bv. in Ef. 5:25: “Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor gegee het.” Eers wanneer hy die regte keuse, volgens die gebod van God, maak – dan eers is hy waarlik vry in sy verhouding tot sy medemens (in hierdie geval sy vrou). Hoe meer die man sy vryheid deur gehoorsame liefdesdiens verwesentlik, hoe meer stimuleer en steun dit die verwesentliking van sy vrou se vryheid as vrou (want ook die vrou staan voor die keuse om haar man lief te hê of nie lief te hê nie, maar sy het ook die gebod van God aan haar soos in Ef. 5:22: “Vroue, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here.”) So komplimenteer die man se vryheid die vrou se vryheid en word ware menslike vryheid, in hul liefdesdiens teenoor mekaar, konkreet.
Menslike vryheid in verhouding tot die kosmos/wêreld:
Menslike vryheid in sy verhouding tot die kosmos (waaronder ons stof, plant, dier en mens as skepsel moet verstaan) is heerskappy. Met betrekking tot God kan die mens natuurlik nie heers nie, daarom is hy, in verhouding tot Hom, dienaar. Die mens kan ook nie oor ‘n ander mens heers nie want alleen God is opperheer oor die mens as kneg. Elke mens is altans gelyk in die sin dat hy beelddraer van God is. Instellings waar daar een persoon ‘bo’ ‘n ander gestel word (soos bv. die staat en die publiek) is nie ‘n vorm van heerskappy nie, maar eerder liefdesdiens. Die mens heers slegs oor die kosmos volgens die kultuuropdrag wat aan hom gegee is in Gen. 1:28: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers [daaroor]...” Die mens heers, beheers, beheer en oefen heerskappy uit oor dit wat sy hand vind om te doen. Selfs ‘n klein babatjie oefen heerskappy wanneer hy/sy klanke in die vorm van woorde of klein treetjies begin beheer om daaroor volkome te heers.[7] Ook self-beheersing is ‘n vorm van heerskappy. Die mens staan dus nie onder of langs nie maar bo die kosmos. Die mens is waarlik vry wanneer hy die natuur “...beheersend aan sy behoeftes en ideale onderwerp en dit voortdurend daarvoor gebruik.”[8]
Die boer is waarlik vry wanneer hy sy plaas só beheers dat dit die opbrengs lewer waartoe dit aangeskaf is. Die skilder is waarlik vry wanneer hy sy Godgegewe talent beheers en daarvolgens as heerser skilderkuns beoefen. Dieselfde geld vir wetenskapsbeoefening. “Die wetenskaplike behéérs sy veld van ondersoek, die literatuur op sy vakgebied ... hy héérs as hy ondersoek, dink, verklarings vind, verifieer, wetenskap bou ensovoorts.”[9] As ons die mens se heerskappy verder gaan deurdink dan kom ons tot kultuurskepping. Want is “...kunsskepping en -waardering, vervaardiging, distribusie en verbruik van ekonomiese goedere, tegniek, taalvorming en -gebruik, regsvorming en -handhawing, huweliksluiting, gesinsvorming, staatsvorming ensovoorts...”[10] nie alles maar kultuurskepping nie? So is die mens dan as heerser kultuurskeppend besig om sy vryheid te verwesentlik.
Ook wat menslike vryheid in verhouding tot die kosmos betref is daar twee vereistes:
· Die moontlikheid van keuse
· En die gehoorsaamheid aan die behorenseise van God
Om te heers impliseer noodwendig dat jy keuses het. So kan ek besluit om ‘n huis só te bou en nie só nie; ek kan hierdie roete neem en nie daardie een nie of ek kan hierdie boek lees eerder as daardie een ens. Maar ook hierdie moontlikheid van keuses bestaan nie los van die verordeninge van God nie en weereens geld dit dat slegs wanneer ek die regte besluit neem tussen al my keuses op grond van my gehoorsaamheid aan die verordeninge van God, kan ek waarlik vry wees. Hierdie verordeninge is nie net die wet van God nie, maar is ook dinge soos bepaalde gawes, geleenthede en kontekste wat God aan jou gee.
So kan bv. enigiemand die keuse maak om ‘n skildery te skilder, maar as God aan daardie persoon nie die gawe (dinge soos aanvoeling vir kleurskakerings, proporsie, waarnemingsvermoë ens.) gegee het nie, dan is daardie persoon nie vry om te skilder nie. Daardie persoon sal dan eerder ‘n slaaf van sy eie onvermoë wees (en so iets maak ‘n persoon baie vinnig gefrustreerd). Dieselfde geld vir bv. ‘n predikant. Met ‘n bepaalde teks voor hom kan hy oneindig baie keuses uitoefen. Hy kan hierdie Hebreeuse woordjie só vertaal en nie só nie en hy kan hierdie toepassing maak en nie daardie een nie ens. Maar die predikant is ook gebind aan bepaalde verordeninge. Dit sluit in Hebreeuse grammatika- en sintaksreëls wat hy in ag moet neem om die regte vertaling van ‘n woordjie te kan doen. Dit sluit ook iets soos eksegetiese en hermeneutiese reëls en riglyne in waaraan hy gehoor moet gee om die regte betekenis van die teks te identifiseer ens. Wanneer hy telkens weer die regte keuse maak op grond van die bepaalde behorenseise wat hom bind, dan eers kan gesê word dat hy vry is. Hy is nie vry om te maak wat hy wil nie; maar is juis vry as hy doen wat hy behoort te doen.
‘n Goue draad:
Tot dusver het ons gesien hoedat die mens in ten minste drie verhoudings staan:
· In sy verhouding tot God
· In sy verhouding tot sy medemens
· In sy verhouding tot die kosmos
In hierdie drie verhoudings word ware, positiewe menslike vryheid in verskillende wyses sigbaar:
· Menslike vryheid in verhouding tot God is diensbaarheid
· Menslike vryheid in verhouding tot die mens is naasteliefde
· Menslike vryheid in verhouding tot die kosmos is heerskappy
Is daar ‘n gemeenskaplikheid in hierdie drie uitdrukkings van vryheid wat ons kan rig tot ‘n oorkoepelende definisie van wat ware menslike vryheid is? M.a.w. wat deel hierdie drie uitdrukkings van menslike vryheid?
Om hierdie vraag te beantwoord is dit belangrik dat ons moet verstaan dat die mens in wese altyd antwoordend optree. God vra altyd eerste en die mens antwoord. “God stel die mens sy take en met taakvervulling of taakvervalsing antwoord die mens.”[11] Vanuit al drie vryheidsverhoudinge kon ons sien dat kiesmoontlikheid ‘n voorwaarde is. Hierdie wye verskeidenheid van moontlikhede is deur God aan die mens gegee as vraag waarop die mens positief of negatief, gehoorsaam of ongehoorsaam antwoord. Hierdie vrae van moontlikhede word nie verniet of om geen rede aan die mens ‘gevra’ of gestel nie, maar met ‘n besondere doel. Hierdie ‘vrae’ van moontlikhede stel aan die mens take en ‘eis’ daarom vervulling.[12]
Voorbeeld: ‘n Jong gesin word bedreig deur ‘n bepaalde gebeurtenis. Die pa van die gesin word moontlikhede gebied en deur hierdie moontlikhede ‘vra’ God aan die pa om op te tree; hy ‘eis’ ‘n antwoord. Wat gaan die pa doen; hoe gaan hy antwoord? Gaan hy sy vaderlike plig versuim en nie beskermend optree nie, of gaan hy sy plig opneem en sy gesin so goed moontlik beskerm? Hoe hy antwoord op hierdie ‘vraag’ aan hom gaan bepaal of hy sy taak wat aan hom gestel is vervul of vervals. Hoe weet ons of hy sy taak vervul of vervals? Waaraan meet ons dit? Dit bring ons by die tweede omvattende voorwaarde wat ons by al drie vryheidsverhoudinge raakgesien het, nl. Die gehoorsaamheid aan behorenseise.
Om met ons voorbeeld voort te gaan: Die behorenseise of verordeninge van God bepaal in die situasie waarin die pa en sy gesin is wat die regte optrede is wat tot taakvervulling sal lei. In hierdie geval stel die verordeninge van God aan die pa dat hy die beskermer van sy huis is en daarom só moet optree dat hy sy gesin tot die beste van sy vermoë moet beskerm. Doen hy dit nie, dan versuim hy om sy taak te vervul en antwoord hy wel God se ‘vraag’ aan hom, maar antwoord hy verkeerd. So kan ons sien dat ware, menslike vryheid die regte beantwoording op die bepaalde moontlikhede aan ons gegee is. Dit kan ons m.a.w. ook verantwoordelike roepingsvervulling noem. Die totale, ware, positiewe menslike vryheid is dus die vervulling van ‘n Godgegewe roeping.
“Laat ons dus roepingsbewus word deur te let op die weë wat Gods Woord ons wys, deur in die lig daarvan van ons omstandighede, geleenthede, kanse en moontlikhede op die regte tye gebruik te maak, deur ons swakhede te oorwin, maar ook ons aanleg, eieaard en identiteit te leer ken en doelbewus te bewaar en te ontwikkel ... roepingsbewustheid is voorwaarde vir alle vryheid.”[13]
Hoe ‘n mens se roeping bepaal word wil ek aan die hand van Prediker 9:10 verduidelik:
“Wat jou hand vind om te doen, doen dit met alle mag.”
So hier sien ons dat vir ware vryheid, wat deur roepingsbewustheid en die uitleef daarvan konkreet word, drie dinge noodsaaklik is:[14]
· Kennis: “Doen dit met alle mag...” waarna verwys die ‘dit’? Na dit wat jou hand vind om te doen. Wat jou hand moet doen, kan ons nie vind sonder kennis nie. Sonder kennis is vryheid nie moontlik nie. Hierdie kennis behels heel eerste Skrifkennis (God se wet en Sy gebooie en ordinansies) daaruit en daardeur vloei ook kennis van onsself voort (jou aanleg, aard, talente, tekortkominge ens.) ook kennis van die geskiedenis (die lesse van die verlede) en natuurlik ook kennis van ons omstandighede (wat geleenthede, kanse en moontlikhede insluit). Sonder hierdie kennis kan die mens nie waarlik vry handel nie.
· Dissipline: “Doen dit met alle mag...” Daar kan alleen iets met alle mag gedoen word, wanneer dit gedissiplineerd benader word. Dissipline behels dan ook self-tug; gesins-tug en groeps-tug ens. Volgens die ordinansies van God word die mens deur dissipline heen belyn om, wat aan hom opgedra is om te doen, met alle mag te kan doen. Slegs so kan hy sy roeping volkome uitvoer en vervolgens waarlik vry wees.
· Gehoorsaamheid: Doen dit met alle mag...” Dit is ‘n bevel van God. Vryheid is altyd handelend; dit is om die regte aksie te neem. Om vry te wees kan jy daarom nie niks doen nie (geen mens word geroep om niks te doen nie!) Maar menslike vryheid bestaan ook nie in die doen van wat jy wil en wanneer jy wil nie maar in die doen van wat God jou stuur om te doen.
Ek sluit af met ‘n laaste paar opmerkings:
Met alles wat gesê is, moet ons goed besef dat die sonde die mens uit sy diepste Grond ontwortel het. “As sondeslaaf het [die mens] die moontlikheid verloor om vir of teen God te kies.”[15] Deur hierdie diepe ontworteling het die mens tog steeds mens gebly; wat beteken dat die vryheidsdrang in hom nie verdwyn het nie. Hy soek nou verbete na ‘n ander grond waarin hy sy vryheid kan veranker. Hy soek dit in eie redding; dit beteken in die moontlikheid van keuse en vorm hy so ‘n valse vryheid wat eintlik niks anders is as ‘n verknegting aan sy eie (verwronge) begeertes, wil en drifte is nie. Dit sien ons in die breër samelewingsstukture ook uitspeel. Ons sien nie meer vryheid nie, maar slawerny; nie heerskappy nie maar oorheersing; nie wetsvervulling nie maar wetsoortreding; nie kultuurskepping nie maar wankultuurskepping; nie leiding nie maar verleiding; nie meer antwoorde nie maar wan-antwoorde; nie meer roepingsvervulling nie maar die versaking daarvan.
Dit is egter nie net in die ‘wêreld’ te bespeur nie, maar ook onontwykbaar by die wedergeborene. Die gelowige is in beginsel die ‘her-worteling’ van sy vryheid in die vrymag van God weer ‘her-skenk.’ Dit is die juridiese vryheidsaspek wat ons weer hier sien. Maar selfs die gelowige bly in hierdie bedeling steeds sondaar ookal word ons geheilig dag na dag om uiteindelik, hoe langer hoe meer, waarlik vry, in gehoorsaamheid aan God, te kan handel.
Is Christus nie die mees vrye mens nie? Het hy nie sy roeping deur God aan Hom gegee, volmaak uitgevoer en daarom volkome vry gehandel nie?
· In Sy verhouding as mens tot God het hy homself as dienskneg volkome voor Sy Vader gebuig. Fil. 2:6-8: “HY, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mens gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”
· In Sy verhouding as mens tot Sy medemens het Hy volmaakte naasteliefde getoon aan die kruishout van Golgota. Rom. 5:8: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
· In sy verhouding as mens tot die kosmos heers hy as Koning oor die heelal. In Ps. 97:1 sing ons so mooi daarvan: “God heers as hoogste HEER: die aarde moet Hom eer, en juig, saam met die strande van afgeleë lande.”
Wie wil weet wat ware vryheid is en hoe ons waarlik vry kan handel, moet hul oë rig na die Christus uit wie en deur wie en tot wie ware, ganse, positiewe, menslike vryheid verwesentlik.
[1] J.A. Heyns Teologiese Etiek, bl.373
[2] Ibid., bl.374
[3] Ibid., bl.374
[4] H.G. Stoker Vryheid en Skrifkennis, bl.1
[5] H.G. Stoker Menslike Vryheid 1, bl.442
[6] J.A. Heyns Teologiese Etiek, bl.374
[7] H.G. Stoker, Oorsprong en Rigting Band 1, bl.162
[8] Ibid., bl.374
[9] H.G. Stoker Menslike Vryheid 1, bl.431
[10] Ibid., bl.431
[11] Ibid., bl.445
[12] Ibid., bl.446
[13] H.G. Stoker Stryd om die Ordes, bl.183
[14] Ibid., bl.183
[15] H.G. Stoker Oorsprong en Rigting, Band 1, bl.173