‘n Weerwoord aan Maties se nuwe Rektor
Wat hier volg is ‘n ope brief gepubliseer in Die Burger van 25 April 2025. Ek het, so spoedig moontlik repliek probeer lewer (die brief wat onderaan volg) en het kennis van ontvangs deur Die Burger se redaksiespan ontvang. Die repliek is egter nooit gepubliseer nie. Enersyds wil ek graag die redaksie die voordeel van die twyfel gee en aanneem dat my ope brief as repliek op Johan Retief se brief bloot te laat ingedien is en die vlammetjie van kontroversie volgens hulle reeds geblus was. Andersyds is daar ‘n blywende stem van agterdog wat nie heeltemal die beweerde ‘neutrale’ berriggewing van die Media vertrou nie. In terugskouing kon ek sekerlik ook met mnr. Retief saagestem het. Want die teologie fakulteit op Stellenbosch kan maar gerus toegemaak word - dit is immers nie eers meer teologie wat daar beoefen word nie. Dis ‘n huis vol ongeregtigheid; ‘n wederstrewige, wit gepleisterde graf. ‘n Pragtige gebou! Maar binne ruik mens die dood. Hoe dit ookal sy. Ek plaas hier die ope brief sowel as my repliek vir rekorddoeleindes - ek hét geantwoord.
Ope brief aan die US se nuwe rektor | Netwerk24
Johan Retief, Yzerfontein
25 April 2025
Geagte prof. Deresh Ramjugernath, geluk met u aanstelling as rektor van die Universiteit Stellenbosch (US). Alles van die beste word u toegewens.
As afgestudeerde student in teologie aan die US verneem ek graag van u hoe dit steeds geregverdig word om die fakulteit teologie in ’n wetenskaplike instelling soos die US te huisves. (My verskoning omdat ek nie destyds as student ingesien het dat so ’n fakulteit nie in ’n universiteit hoort nie en bloot aanvaar het wat aan my opgedis is.)
Universiteite is wetenskaplike instellings waar kennis versamel word in terme van feite, verskynsels en wette wat waargeneem, mee geëksperimenteer en bewys kan word. Deur logiese beredenering word teorieë gevorm wat aan toetsing onderworpe is – en wat kan verander indien nuwe inligting dit nodig maak.
Teologie, daarenteen, kry sy “kennis” vanuit ’n bonatuurlike bron – byvoorbeeld uit die “openbaring” in die Bybel (Jode, Christene en deels ook Moslems) of uit die Koran (Moslems). Dit maak van teologie ’n pseudo-wetenskap, wat sy “kennis” nie op bewysbare feite grond nie, maar op geloof. Dit bots lynreg met alles waarvoor die wetenskap staan. Die wetenskap het nie plek vir vooropgestelde oortuigings (lees: geloof) wat per definisie onveranderbaar is nie.
Natuurlik het die bestudering van die wetenskap van religie ’n plek aan ’n universiteit, waar daardie verskynsel sistematies waargeneem en gevolgtrekkings daaruit gemaak word (soos in sosiologie en ander verwante wetenskappe). Dit verg immers nie die niewetenskaplike oortuiging dat geloof nodig is om kennis te kry nie.
Die onheilige verbintenis tussen die US en die fakulteit teologie verhoog teologie se status onregmatig van ’n pseudowetenskap tot ’n volwaardige wetenskap; verlaag terselfdertyd noodwendigerwys die universiteit se geloofwaardigheid as ’n instelling wat na akademiese en wetenskaplike uitnemendheid streef; en dit lei ook tot onverteerbare spanning tussen dosente en talle gelowiges wat sporadies kop uitsteek.
Geagte professor, u sal die US ’n guns bewys deur die fakulteit teologie se deure te sluit en dit aan die kerke oor te laat om hul leraars elders op te lei. Straks volg ander Suid-Afrikaanse universiteite u voorbeeld
Repliek:
‘n Weerwoord aan die US se nuwe rektor
Geagte prof. Deresh Ramjugernath, dis ‘n bietjie laat, maar van my kant af: ook geluk met u aanstelling as rektor van die Universiteit van Stellenbosch.
Die ope brief van Johan Retief, soos verskyn het in Die Burger op 25 April 2025, het betrekking:
As rektor het u sekerlik raadgewers. Nie almal van hulle is egter wyse raadgewers nie. In die Bybel lees ons van slegte raadgewers soos Agitofel. Ook Mnr. Johan Retief – afgestudeerde student in teologie aan die US hou u besig met slegte raad.
Volgens hom hoort die fakulteit teologie nie tuis in ‘n wetenskaplike instelling soos US nie, omrede dit, volgens hom, ‘n “pseudo”-wetenskap is. Egte, ware wetenskap, sê hy, is gegrond op waarneembare, eksperimenteerbare, bewysbare, harde feite, verskynsels en wette. Die teologie – daarenteen – is gegrond in geloof en kan dus, volgens sy mening, as onwetenskaplik beskou word.
Vergun my die voorreg om op bogenoemde stelling repliek te lewer.
Retief se hele betoog is ironies genoeg gegrond op aannames wat self nie deur die “harde”-wetenskappe bewys kan word nie. Hy neem byvoorbeeld aan dat taal betekenis dra, dat die leser selfbewus is en dat “waarheid” sin maak – maar geen mikroskoop of laboratoriumtoets kan dít bewys nie. Sy argument is filosofies van aard, nie natuur-wetenskaplik nie.
Hy bied u ook waardestellings aan: dat sy raad “goed” is. Terme soos “goed” en “sleg” is egter nie met ‘n liniaal meetbaar of met ‘n toetsbuis bevestigbaar nie – dis geloofsuitinge, morele aksiomas. Dus: Op grond van sy eie definisie van die wetenskap, ruik sy eie stellings kenmerkend na “pseudo”-wetenskap. Om wetenskap met “pseudo”-wetenskaplike stellings te probeer regophou is irrasioneel.
Teologie is nie ‘n indringer nie. Deur die eeue is dit met reg die koningin van die wetenskappe genoem – juis omdat dit vra na sin, waarde en uiteindelike doel. Filosofie drink uit hierdie bron, en eers dán kan die “harde”-wetenskappe hul objek van studie – van kwark tot kwagga – met betekenis bestudeer.
Geagte rektor, wetenskapsbeoefening sonder Teologie én sonder Filosofie is nie net arm nie – dit is inderdaad die werklike pseudo-wetenskap.
Met akademiese groete,
Wynand A. ‘t Hart
Waverley, Pretoria