Milton se Belydenis

Een ding wat John Milton, daardie 17de eeuse Puriteinse digter, my weer duidelik laat besef het is dit: God het my nie nodig nie. In sy bekende gedig When I consider how my light is spent (1655), beskryf hy op aangrypende wyse hoedat hy, as besonder begaafde digter en skrywer, worstel met die enorme ‘struikelblok’ van blindheid wat hom oorval het. Maar net voor hy sy misnoeë oor sy benarde, en feitlik tragiese situasie, teenoor God wou laat hoor, ruk sy geloofsgeduld hom tot nadenke en dan skryf hy ‘n strofe wat my elke keer diep ruk: “God doth not need either man’s work or his own gifts...”

Wat ‘n aangrypende besef het Milton hier nie neergepen nie! God het hom nie nodig nie. Maar mag ek dit maar tuisbring: God het jóú ook nie nodig nie. Laat dit effens insink... Dit is ‘n soberende gedagte; ‘n werklikheid wat ons uit die beswyming van ons selfgerigtheid skud.

Ek het nou al besef dat ons baie meer in die dampkring van die ‘ou’ geeste van die Weste leef en dink as wat ons dalk besef. Vir ons is Reneé Descartes se cogito ergo sum (ek dink, daarom is ek) en die Verligting (1685 – 1815) met sy menslike redeverheffing en die Eksistensialisme van die filosowe soos Jean-Paul Sartre, Heidegger en Albert Camus dalk net ver-af figure en konsepte wat lank reeds in die skaduwee van die geskiedenis verdwyn het. Maar ek reken dat ons steeds in hul geselskap verstrengel raak.

Ons asem daardie digte denkklimaat steeds in ookal sê ons wát oor ons ‘Christelike’ lewens- en wêreldsbeskouing. Ons leef met ‘n Subjek-Objek realiteit wat gestuur word deur die Aufklärung (Verligting) sedert Descartes. ‘n Lewensgerigtheid met die mens – met die ‘self’ – as eksistensiële middelpunt. God het die objek geword – ‘n fenomeen vir ons rasionele wesens om te bestudeer. Hy pas nou by óns raamwerk in. Ons het vergeet dat God die ‘Gans-andere’ is. Die Een wat ons rede en sin vir ons bestaan gee – Hy waaruit die lewe self voortspruit.

Die mens leef in die dodelike illusie, al van die uur van die sondeval van ons vader Adam af, dat ons reggekry het wat die slang so listiglik ons aangebied het: om soos God te wees. Die mens het ‘n god-kompleks en in plaas van die soberende werklikheidsbesef dat God geen mens nodig het nie, word die teenoorgestelde gepropageer: ons het God nie nodig nie! Hoeveel keer bulder daardie belydenis nie in ons gemoedere nie? ‘n Implisiete houding wat die bestaan van God tot slegs ‘kompartement-Kerkwees’ reduseer of selfs heeltemal negeer. Strompel ons nie dikwels maar ook saam met Friederich Nietzsche en kie op die lewensplein van ons bestaan met baniere en slagspreuke in die lyn van ‘God is dood’ nie?

Ons leef so dikwels na die gees van daardie opstandige Griekse Prometheus – vuiste in die lug teen die god wat nie na ons eie welbehae wil konformeer nie. Maar die waarheid is: God het jou nie nodig nie. Ek moet dit weer sê want ek weet nie of dit insink nie. God het jou regtig nie nodig nie. Milton se strofe is vir my so treffend want dit eggo iets meer as net ‘n besef. Dit is ‘n belydenis van die grondmotief vir sy ganse bestaan. Hy bely presies dieselfde as wat Paulus in Romeine 11:38 bely: Uit God, deur God en tot God is alle dinge – ook sy nietige bestaan; ook sy blindheid.

J.B. Phillips het ‘n boek geskryf met die uitlokkende titel Your God is too small. Wel, die waarheid is, your God ís too small indien Hý jóú nodig het. Daarteenoor bring die wedergeboorte ‘n ganse Kopernikaanse revolusie in die bekeerde voort. Waar jy eers jouself as die spil waarom alles draai beskou het, verbrysel die Gees die skanse van die ‘self’ en rig jou na die Gans-andere, na God, waartoe en waarvoor alles, ook jy, in die lewe geroep is. Daar vind ‘n radikale, eksistensiële paradigmaskuif plaas wat die besef laat opwakker en die belydenis laat geld: God het my nie nodig nie, maar ek Hóm.

 

Sonet 19: When I consider how my light is spent

When I consider how my light is spent,
   Ere half my days, in this dark world and wide,
   And that one Talent which is death to hide
   Lodged with me useless, though my Soul more bent
To serve therewith my Maker, and present
   My true account, lest he returning chide;
  “Doth God exact day-labour, light denied?”
   I fondly ask. But patience, to prevent
That murmur, soon replies, “God doth not need
   Either man’s work or his own gifts; who best
   Bear his mild yoke, they serve him best. His state
Is Kingly. Thousands at his bidding speed
   And post o’er Land and Ocean without rest:
   They also serve who only stand and wait.”

Previous
Previous

Die Verkeerde Vrae

Next
Next

Die Gelofte van 1838 (Deel 2): Teologiese Oorsig